Binnelandse Toere

2023
Weskus-, Blomme- en Cederberg-Toer; Tuinroete en Klein Karoo; Wildtuin
BINNELANDSE TOERE 2023
Die binnelandse toere word al hoe meer gewild en ons bied weer die Weskus toer aan en die Nasionale Kruger Wildtuin word ook aangebied.
WESKUS-, BLOMME- & CEDERBERG-TOER
19 – 26 Augustus 2023
PRYS: R16 520 plus R350 vir fooitjies
'n Toer na die Weskus is iets besonders. Dit bied 'n kennismaking met van die mooiste en interessantste dele van ons land, en die blomme van hierdie streek is internasionaal bekend! Daar is die ongelooflike Cederberg met fassinerende rotstekeninge en onbeskryflike rotsformasies. Die streek se dorpies is verkenningsplekke waarvan sommige oor die jare onveranderd gebly het.
Teen die Weskus af is dit natuurlik by uitstek viswêreld! Wanneer die snoek die dag loop, is dit 'n belewenis om die vissermanstaal te hoor wanneer die bote inkom en die vis afgelaai en te koop aangebied word. In Velddrif besoek ons die straatjie waar bokkoms (gedroogte vis) gemaak word. Dis 'n interessante bedryf wat eie aan die Suid-Afrikaanse Weskus is.
Die Weskus het verskeie bekende restaurante en padstalle. Van die geregte wat in hierdie streek gevind word, word eksklusief uit plaaslike veldkos berei. Ons reis deur die area sluit ook 'n besoek en ete by die bekende Muisbosskerm-restaurant in. Besoekers word hier getrakteer op 'n fees van seekos en ander plaaslike geregte.
Die Weskus roep ook altyd mooi herinneringe op van die legendariese Tolla van der Merwe en sy unieke vertelkuns, wat lank ná sy dood voortleef.
Hierdie toer belowe om 'n fees te wees en aan pret en verwondering gaan dit beslis nie ontbreek nie! Indien u wil saamgaan, moet u so gou as moontlik u plek bespreek aangesien plekke beperk is.
Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting:
Volledige Program Weskus, Blomme en Cederberg
Nadere Besonderhede Weskus, Blomme en Cederberg
Inskrywingsvorm
Vrywaring
TUINROETE EN KLEIN KAROO
12 – 19 September 2023
PRYS: R17 850 plus ongeveer R400 vir fooitjies
Die Tuinroete in die Suid-Kaap is een van die groot trekpleisters vir Suid-Afrikaners én buitelanders omdat dit vir besoekers 'n geweldige verskeidenheid van besienswaardighede tussen berg en see bied. Daar is pragtige strande, uitgestrekte woude, verskeie mere en talle dorpe wat die geskiedenis van die verspreiding van die Suid-Afrikaanse bevolking na die Oos-Kaap weergee.
Ons bly sewe nagte in Wildernis en besoek George, Knysna, Mosselbaai en 'n deel van die Klein Karoo. George, die eerste dorp wat gestig is nadat die Engelse die Kaap in 1806 oorgeneem het, het talle geskiedkundige geboue en is deesdae een van Suid-Afrika se gewildste aftreeplekke. Dit staan ook as die hoofstad van die Tuinroete bekend.
Knysna, geleë aan 'n pragtige meer, is prentjiemooi en lê tussen die see en die rykdom van die inheemse woude wat Daleen Matthee geïnspireer het om boeke te skryf wat volksbesit geword het.
In Mosselbaai besoek ons Suid-Afrika se oudste poskantoor – die boom waar die vroeë seevaarders posstukke gebêre het. Ons sien ook een van die grotte by 'Die Punt', waar steeds navorsing gedoen word oor die vroeë beskawings in Suid-Afrika.
Tussendeur besoek ons van die talle pragtige strande van die omgewing. Aan die einde van elke jaar wemel dit van vakansiegangers wat die skoonheid van die streek kom bewonder.
Op ons uitstappie na die Klein Karoo ry ons met die pragtige Outeniekwapas na die onvergelykbare Meiringspoort, die smal deurgang in die Swartberg na die Groot Karoo. Die rooi kranse en 26 bruggies oor die riviertjie in die pas verraai niks van die vloede wat in tye van groot reëns die pad vir verkeer sluit nie.
Die toer bied 'n rustige ervaring van een van Suid-Afrika se mooiste natuurgebiede, weg van die stadsgewoel en -gejaag.
Moenie uitstel nie en bespreek so gou moontlik indien u wil saamgaan op hierdie unieke wegbreek. Daar is plek vir slegs vyftien mense.
Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting:
Volledige Program Tuinroete en Klein Karoo
Nadere Besonderhede Tuinroete en Klein Karoo
Inskrywingsvorm
Vrywaring
KRUGERWILDTUIN EN PANORAMAROETE
30 Augustus – 5 September 2023
PRYS: R18 850 per persoon wat deel en ongeveer R400 per persoon vir fooitjies
Die Krugerwildtuin is een van Suid-Afrika se ikoniese besoekplekke. Dit bied 'n wegbreek-ervaring sonder gelyke. Daar is geleentheid om die ryk dierelewe van die park te beleef en enige oomblik op pad kan 'n verrassing oplewer!
Ons toer neem u na vier van die bekendste kampe in die wildtuin – Malelane, Skukuza, Onder Sabie en Satara – en na die natuurskone Blyderivierspoort, 'n diep kloof in die Noorde van Mpumalanga, een van Suid Afrika se mooiste besienswaardighede.
Die toer begin en eindig op die O.R. Tambo-lughawe. Met die terugkom oornag die groep in Dullstroom, 'n idilliese klein dorpie wat met sy talle verskeidenheid van winkeltjies op toeriste ingestel is.
Dis 'n toer wat u sal betower – weg van die stadsgewoel en in die pragtige natuur- en dierelewe wat uniek is aan Suid-Afrika. So 'n besoek doen iets aan 'n mens se siel.
Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting
Volledige Program Krugerwildtuin en Panoramaroete
Nadere Besonderhede Krugerwildtuin en Panoramaroete
Inskrywingsvorm
Vrywaring
BETALINGS
Toerdeposito's is met inskrywing betaalbaar (Sien Nadere besonderhede en inskrywingsvorm)
Alle betalings (behalwe deposito's) word eers gemaak wanneer u per omsendbrief daaroor ingelig word.
Kontantinbetalings
Kontantinbetalingskoste moet by inbetalings ingesluit word. Vra u bank hoeveel dit beloop (ongeveer 1% van die inbetalingsbedrag)
Bankdeposito's en elektroniese oorplasings (EFT)
Sien EFT hieronder
EFT: | |
Bank: |
Standard Bank
|
Rekening: | Cheque/Transmission |
Rekeningnaam: | Christine van Wyk-Toere |
Takkode: | 051001 |
Rekeningnommer: | 410722782 |