Hoe kies 'n mens 'n toer

Daar word deesdae so 'n groot verskeidenheid toere aangebied en geadverteer dat dit vir voornemende toerlede moeilik is om keuses te maak. Vanselfsprekend kyk 'n mens na die toerprys. Daar is egter ook 'n paar ander belangrike aspekte waaraan 'n mens aandag moet gee om werklik te bepaal waar jy die beste waarde vir jou geld kry.

Is daar genoeg tyd om alles te ervaar?
Antwoord: Bestudeer die toerprogram en kyk of dit werklik genoeg tyd toelaat om alles te ervaar wat daarop aangedui word. Maak bv seker dat u Europa se pragtige stede asook intieme klein dorpies, sowel as die ongelooflike natuurskoon behoorlik kan besigtig en geniet. 'n Toer kan natuurlik veel goedkoper aangebied word as daar van een stad na 'n ander gejaag word, maar dan ontneem dit 'n mens die vreugde om nuwe en vreemde plekke werklik te beleef en te ervaar.

Is daar genoeg inhoud en variasie?
Antwoord: Maak seker daar is genoeg afwisseling tussen besigtiging van besienswaardighede, besoeke aan groot stede asook die platteland, vrye tyd en die keuse van ander aktiwiteite volgens elkeen se persoonlike smaak.

Wat is die gehalte van die hotelle?
Antwoord: As mens 'n lang dag agter die rug het, wil jy darem graag in 'n hotel van goeie kwaliteit tuis gaan waar jy behoorlik in 'n gerieflike kamer kan uitrus.

Is maaltye by die toerprys ingesluit?
Antwoord: Maak seker daar word 'n behoorlike buffet-ontbyt aangebied waar jy kan kies en keur na eie smaak. 'n Koppie koffie en 'n paar broodrolletjies is tog nie genoeg vir 'n hele dag nie. Is aandetes by die toerprys ingesluit? Ná 'n bedrywige dag het 'n mens nie lus om elders na ordentlike eetplekke te gaan soek nie. Op die ou end betaal jy dan dikwels meer vir 'n goeie bord kos, of net so veel as wat dit vir jou in 'n hotel vir die groep sou kos.

Is daar ervare toerleiers/gidse?
Antwoord: Die toerleier/gids moet deurgaans sinvolle en interessante inligting kan verskaf en moet ervare en in staat wees om enige krisis te hanteer. 'n Mens wil soveel moontlik van 'n bepaalde plek te wete kom en te sien kry.

Hoe lyk die busse wat gebruik word?
Antwoord: Maak seker dit is 'n luukse bus wat toegerus is met die nodige geriewe: gemaklike rug- en armleunings, kopstutte, beenruimte, lugversorging, groot vensters en toiletgeriewe. Die busbestuurder moet bekwaam, vriendelik en behulpsaam wees. 'n Onervare en onbeskofte bestuurder kan 'n toer totaal bederf.

Wie is deel van die groep?
Antwoord: As die toergroep redelik homogeen is wat taal en kultuur betref, is dit soveel makliker om 'n gemoedelike atmosfeer te skep, almal tevrede te stel en gelukkig te hou. D­ít bied 'n uitdaging wanneer daar mense van verskillende ander lande ook by die groep aansluit wat die groepsgebondenheid beïnvloed en kommunikasie bemoeilik. Om goeie vriende op 'n toer te maak is baie kosbaar!

Wat moet alles gereël word en wie doen dit?
Antwoord: Maak seker dat al die voorafreëlings duidelik uiteengesit en advies voorsien word mbt paspoorte, visums, geldsake, versekering, vertrekreëlings, klere en ander reisbenodigdhede.

Is alle kostes gedek?
Antwoord: Maak seker dat daar geen verskuilde kostes is nie en dat u vooraf noukeurig ingelig is oor alle addisionele kostes en opsionele uitstappies. Onthou, die prys en aantal dae van 'n toer word bereken saam met die kostes van die vlug heen en weer, maw die toer begin wanneer u aan boord van die vliegtuig gaan tot wanneer u weer in Suid-Afrika land.

Wat van verwysings?
Antwoord: Probeer om self met iemand te praat wat al met die betrokke toermaatskappy getoer het om 'n eerlike mening te verkry. Dit is die beste verwysing.
 
Indien die bogenoemde vrae bevredigend beantwoord is, kan u makliker 'n evaluering maak en behoort dit vir u moontlik te wees om 'n goeie keuse te maak en die regte toer te kies.