Christine van Wyk-Toere
 
 
Oor die jare heen het duisende Suid-Afrikaners saam met Christine van Wyk-Toere die wêreld deurkruis. Die saam beleef van die mooiste plekke op aarde, die gesamentlike stil word van verwondering, die "Kenmekare" en die skaterlag-geleenthede het ons op 'n besondere manier verbind en ons sal dit altyd koester. Ons het vreemde plekke leer ken en met die kosbaarste herinnerings en foto's, vir later se kyk en weer beleef, teruggekeer huis toe. Boonop het ons so saam op toer, tydens die bymekaarmaak van 'n ryke verskeidenheid van ervarings, permanente vriende gemaak na wie ons steeds verwys as Christine van Wyk se uitgebreide familie.
Christine van Wyk-Toere beleef tans 'n oorgangsperiode. Die huidige bestuur is besig met onderhandelings met die nuwe generasie wat die maatskappy vorentoe moet neem met behulp van moderne tegnologie en nuwe idees. Ononderhandelbaar is egter dat ons ou waardes, wat diep gevestig is in ons naam en in ons kwaliteit dienslewering, behoue sal bly.
Terwyl daar beplan word aan Christine van Wyk-Toere se toekoms, behels dit in die praktyk dat ons in 2025 'n kleiner hoeveelheid toere sal aanbied.