RHONERIVIER VAART

22 Augustus - 3 September 2022
  Vaar op die Rhônerivier verby gebiede wat op UNESCO se Wêrelderfenislys pronk.

RHÔNE-VAART, SWITSERLAND EN OBERAMMERGAU 2022

22  Augustus – 3 September:  R66 750 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R7 270 en koste van visum en reisversekering wat volgens eie behoefte bepaal word (sien NIE INGESLUIT BY DIE TOERPRYS NIE in Nadere Besonderhede).

Die heerlike 6 nagte vaart begin teen die Middellandse See aan die suidpunt van Frankryk en ons vaar op die Rhônerivier verby gebiede wat op UNESCO se Wêrelderfenislys pronk, tot in Lyon,  die 3e grootste stad van Frankryk.  Afgesien van die eeue-oue wynbou kultuur en argitektoniese skatte uit die Romeinse tyd, is hier uiteenlopende natuurwonders wat ons kan aanskou. 
Die Rhônerivier waarop ons vaar, is een van Europa se magtigste riviere en ontspring in die Switserse Alpe.  Dit vloei deur groot dele van Switserland en Frankryk waar dit na sowat 814 km se vloei, naby Marseille by die Camargue-rivierdelta in die Middellandse See uitmond.
Die Rhône-vallei is bekend vir sy gematigde klimaat, wat dit 'n ideale landboustreek maak vir die verbouing van vrugte.  Die Franse wyne van die Rhônegebied is wêreldwyd bekend, soos byvoorbeeld die Châteauneuf-du-Pape, afkomstig van die wingerde naby Avignon.
Vanaf Lyon reis ons per bus deur Switserland waar ons twee nagte in 'n pragtige omgewing oorbly, totdat ons na Oberammergau vertrek.
Die boot bied 'n aantal opsionele uitstappies aan, maar uit ervaring weet ons dat meer as een uitstappie per dag te veeleisend is.  Sommige hiervan is ook op jonger deelnemers gemik.  Ons het die uitstappies wat mens nie mag mis nie, ingesluit in ons toerprys.  Dit staan u steeds vry om van die addisionele opsionele uitstappies te onderneem.
Die toerprogram is uitgewerk omdat ons ons Ruslandtoere moes kanselleer.  Hierdie vaart is so gekies dat dit by ons bespreekte Passiespeldatums aanpas.
Die toer word afgesluit in Oberammergau vir die bywoning van die Passiespel – 'n aangrypende opvoering van die lyding, kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus.  Die Passiespel word net elke tien jaar opgevoer en is weens die Covid-19-pandemie van 2020 na 2022 uitgestel.
Ons is besonder gesteld op die gehalte van ons toere.  Deeglike beplanning, hoogstaande kwaliteit en toere wat absolute waarde vir geld waarborg, is ons prioriteit. 
Aangesien ons nie baie wyd adverteer nie en die meeste toerlede gewoonlik op aanbeveling van vorige toerlede gewerf word, is ons groepe redelik homogeen.  Daarom is een van die groot kenmerke van ons toere die hegte vriendskapsbande wat onderling gesmee word. 

Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting:
Volledige Toerprogram
Nadere Besonderhede
Inskrywingsvorm
Vrywaring

BETALINGS
Toerdeposito's is met inskrywing betaalbaar (Sien Nadere besonderhede en inskrywingsvorm) 
Alle betalings (behalwe deposito's) word eers gemaak wanneer u per omsendbrief daaroor ingelig word.
Kontantinbetalings
Kontantinbetalingskoste moet by inbetalings ingesluit word.  Vra u bank hoeveel dit beloop (ongeveer 1% van die inbetalingsbedrag)
Bankdeposito's en elektroniese oorplasings (EFT)
Sien EFT hieronder
Kredietkaartbetalings
Deposito's en landreëlings kan per kredietkaart te betaal word.
BELANGRIK:  Bankdiensfooi van 4% is betaalbaar.  Hierdie bedrag moet bereken en ekstra met alle betalings gemaak word.  Aangesien dit die toerprys onnodig duurder maak, beveel ons dit nie aan nie. Klik op die 'Pay Now'-skakel onder vir kredietkaartbetalings

EFT:  
Bank:
Standard Bank
Rekening: Cheque/Transmission
Rekeningnaam: Christine van Wyk-Toere
Takkode: 051001
Rekeningnommer: 410722782

 

Kredietkaartbetaling:

*Bereken 4% bankdiensfooi ekstra en voeg by kredietkaartbetalings

* Price

Christine van Wyk-Toere
 
 
CHRISTINE VAN WYK-TOERE is 'n familie-onderneming wat baie waarde heg aan hoëkwaliteit-diens. Met amper 40 jaar se ervaring in díe veld, het Christine se Toere vir die Fynproewer al 'n huishoudelike naam geword by elke Suid-Afrikaner wat in buitelandse gehaltetoere belangstel.
Ná 'n twee jaar lange onderbreking van ons oorsese toerprogram weens die Covid-19-pandemie, is ons oorgehaal en opgewonde om ons toere oorsee in 2022 te hervat en u weer na van die mooiste plekke op aarde te neem.