Opsomming toere 2022

2022
 Toerspyskaart vir 2022

TOERE 2022

Al die toere sluit af met 'n besoek aan Oberammergau vir die Passiespel – 'n belewenis wat 'n mens nooit vergeet nie!   
Vir volledige besonderhede van die toer, klik op toernaam

Rynvaart, Swartwoud en Switserland: 02 – 12/20 Mei. 
Suksesvol afgehandel. Volledige besonderhede vir 2023 binnekort beskikbaar. Stuur vir ons 'n epos na info@toere.co.za om u naam op die verspreidingslys te plaas.
Prys: R68 760 plus ongeveer R7 600 vir lughawebelasting en fooitjies.
Hierdie vlagskiptoer van Christine van Wyk-Toere word in die vorm van 'n vyf nagte bootvaart van Amsterdam na Strasbourg aangebied.  Die datums is spesiaal só gekies dat die groep Keukenhof, die wêreld se grootste blomtuin, in volle prag kan ervaar.  Een van talle hoogtepunte is die romantiese roete op die Ryn waar ons die talle ou kastele teen die hange langs die rivier sien en die interessante stories oor elkeen hoor. Twee nagte se verblyf in die Swartwoud volg na afloop van die Rynvaart.  Die tweede been van die toer sluit ses nagte in Beatenberg in. Dié idilliese Switserse dorpie bokant Interlaken, met 'n pragtige uitsig oor die drie bergreuse van Switserland:  Die Eiger, die Jungfrau en die Monch, is 'n prokiesparadys. Gedurende ons verblyf in Switserland kan toerlede die omgewing van Beatenberg en Interlaken beter leer ken.  Opsionele daguitstappies word, afhangende van die weer, onderneem.  Twee voldaguitstappies word by die toerprys ingesluit.  Die toer word afgesluit in Oberammergau, waar ons twee nate vertoef om die Passiespel by te woon.

Boedapest, Wene en Salzburg: 16 – 28 Julie
Prys: R54 835 plus ongeveer R9 200 vir lughawebelasting en fooitjies
Hierdie toer sentreer om drie van Europa se mooiste stede.  Boedapest word met reg die "Parys van die Ooste" genoem.  Ons geniet aandete op 'n boot op die Donau terwyl ons Boedapest se verligte bakens bewonder.  Ons besoek ook Szentendre, 'n Middeleeuse dorpie en inkopieparadys.
In Wene woon ons 'n Mozart-Strauss-musiekkonsert in die beroemde Hofburgteater by.  Ons besoek onder andere ook die Schönbrunn-paleis en pragtige tuine.
Onderweg na Salzburg stop ons by Steyr – seker dié bes bewaarde Middeleeuse dorpie in Oostenryk.  Ons ry ook na die Salzkammergut waar talle prentjiemooi meerdorpies en onbeskryflik mooi valleie blywende indrukke laat.  In Mondsee besoek ons onder meer die kerkie waarin Maria in die rolprent The Sound of Music met kaptein Von Trapp getroud is.
In die musiekstad, Salzburg is daar geleentheid vir opsionele musiekkonserte.

Vier Riviere bootvaart: 29 Julie – 09 Augustus
Prys:  R61 780 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R5 550
Ervaar 'n 6-nagte luukse bootvaart wat oa vier riviere insluit:  Die Saar, die Moesel, die Ryn en die Neckar.  Ons begin naby Luxemburg en ervaar hierdie stad saam met 'n paar ander wynbou-dorpies wat volg, nl Trier, Cochem, Rüdesheim en Heidelberg.  Na ontskeping in Strasburg, reis ons na Oberammergau.

Switserland: 19 – 27 Augustus
Prys: R40 860 plus ongeveer R6 880 vir lughawebelasting en fooitjies
Hierdie toer neem u na Switserland – die pêrel van Europa.  In die winter is dit sneeu net waar jy kyk en gedurende die somer, die pragtigste groen natuurskoon.  Ons gaan tuis in Beatenberg teen die hang van die Niederhorn en met 'n ongelooflike uitsig oor die Thunmeer en Switserland se bergreuse.  Reg deur die jaar kan 'n mens jou verwonder aan die Jungfrau, Eiger en Monch.  Afhangende van die weer word opsionele uitstappies elke dag na van die mooiste plekke in Switserland onderneem.  Die toer is 'n onvergeetlike belewenis en lafenis vir 'n mens se liggaam en siel.

Italië: 19 Augustus – 03/09 September
Opsie 1 met Passiespel: 19 Augustus – 03 September
Prys:  R70 910 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R5 695
Opsie 1 sonder Passiespel: 19 Augustus – 03 September
Prys:  R62 368 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R5 695
Opsie 2 met Passiespel: 19 Augustus – 09 September
Prys:  R93 390 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R6 219
Opsie 2 sonder Passiespel: 19 Augustus – 09 September
Prys:  R84 848 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R6 219
Italië het 'n bekoring van sy eie:  Napels, Sorrento, Capri en die pragtige Amalfi-kus is van die hoogtepunte reg in die begin.  Ons besoek Pompeii, die stad wat deur 'n vulkaan begrawe is en spandeer drie dae in Rome, waar ons o.a. die Vatikaan, Sistynse kapel met Michelangelo se dakskildery en die St Peters-kerk besoek.  Ons reis na Florence – geboorteplek van die Renaissance – en Venesië, die sinkende stad op water. 
Van Venesië af ry ons deur Noord-Italië oor die Grossglockner-pas na Kaprun in die Oostenrykse platteland, van waar Oberammergau maklik bereikbaar is.  In dié wêreldbekende klein Beierse dorpie het ons die voorreg om die tienjaarlikse Passiespel by te woon.  Vanaf Oberammergau kan toerlede terugkeer na Suid-Afrika óf die Italiaanse toer voortsit.  Die tweede deel van ons toer in Italië neem ons na Garda, Milaan, die Como-meer, Portovenere en Cinque Terre aan die Italiaanse riviera met dorpies wat skilderagtig teen hoë rotswande vasklou.  Ons kry ook 'n blik op die skewe toring van Pisa voordat ons lughawe toe gaan vir ons terugvlug ná 'n onbeskryflike toer!

Rhône-vaart in Frankryk: 22 Augustus – 03 September
Prys:  R66 750 plus lughawebelasting en fooitjies van ongeveer R7 270
Ons luukse 6-nagte bootvaart op die Rhône-rivier begin teen die Middelandse See by Marseille.   Die toer bied hoogtepunte van die Franse platteland met die Camargue rivierdelta, Provence se juwele soos Arles en Avignon en 'n heerlike uitstappie in die Vercors berglandskap, tot waar ons eindig in Lyon.  Daarna 2 heerlike nagte in Beatenberg, Switserland voordat ons Oberammergau bereik.

Romantiese Roete: 26 Aug – 03 September
Prys: R42 250 plus ongeveer R6 240 vir lughawebelasting en fooitjies
Hierdie toer dek die grootste deel van suidwes-Duitsland se romantiese roete.  Dit sluit onder andere 'n kort bootvaart verby die indrukwekkende kastele langs die Ryn tot by die Lorelei-stadjie, St. Goarshausen, in.  Onder die interessantste plekke wat besoek word, is Frankfurt, Rüdesheim, Heidelberg, Wiesloch, die Swartwoud en die Konstanz-meer.  Elkeen van hierdie plekke het 'n unieke bekoring.  Vir die blomliefhebbers is 'n besoek aan Mainau-eiland spesiaal by die toer ingesluit.  Hierdie eiland staan ook as die Bodenmeer se blomeiland bekend en word soms met Keukenhof, die wêreld se grootste lentetuin in Nederland, vergelyk.  Die toer neem ons ook na die omgewing van Neuschwanstein, een van koning Ludwig II se sprokieskastele, en die geskiedkundige Wieskirche.  Die Passiespelvertoning in Oberammergau is 'n waardige afsluiting van die pragtige plekke wat gedurende hierdie toerprogram besoek word.

Slowenië: 11 – 20 September
Prys: R45 520 plus ongeveer R6 886 vir lughawebelasting en fooitjies
Vanaf Slowenië se hoofstad, Ljubljana, ry ons per bus na ons luukse hotel  in Bled in die hartjie van die land se mooiste meergebied!  Ons gaan vier nagte hier tuis en onderneem daagliks uitstappies na van die mooiste dele in Slowenië.
Onderweg na Oberammergau oornag ons in die musiekstad Salzburg – geboorteplek van Mozart.  Ons bly twee nagte in of naby Oberammergau om die wêreldbekende Passiespel by te woon.

Binnelandse toere:
Weskus-, Blomme-, en Cederbergtoer: 16 – 23 Augustus / 24 – 31 Augustus
Prys:  R16 950 plus ± R400 vir fooitjies
Albei toere sluit vyf nagte in 'n uitstekende gastehuis op Clanwilliam en twee nagte in vakansiehuisies teen die kus van Jacobsbaai in asook 'n retoervlug tussen O.R. Tambo na Kaapstad-lughawe.
'n Toer na die Weskus is iets besonders en bied 'n kennismaking met van die mooiste en interessantste dele van ons land.  Die blomme van die streek is internasionaal bekend en die rotstekeninge en onbeskryflike rotsformasies van die Cederberg is fassinerend.  Die streek se dorpies is verkenningsplekke – talle daarvan het oor die jare onveranderd gebly.
Ons woon o.a. ook gedurende ons toer 'n rieldansvertoning by deur 'n groep skoolkinders, wat al oorsee pryse met hulle talent losgeslaan het.  Hierdie blommetoere gaan 'n fees wees!  Aan pret en verwondering gaan dit beslis nie ontbreek nie.

Christine van Wyk-Toere
 
 
CHRISTINE VAN WYK-TOERE is 'n familie-onderneming wat baie waarde heg aan hoëkwaliteit-diens. Met amper 40 jaar se ervaring in díe veld, het Christine se Toere vir die Fynproewer al 'n huishoudelike naam geword by elke Suid-Afrikaner wat in buitelandse gehaltetoere belangstel.
Ná 'n twee jaar lange onderbreking van ons oorsese toerprogram weens die Covid-19-pandemie, is ons oorgehaal en opgewonde om ons toere oorsee in 2022 te hervat en u weer na van die mooiste plekke op aarde te neem.