PASSIESPEL 2020

'n Kort opsomming van die toere wat ons vir 2020 beplan.  Aangesien ons 'n jarelange verbintenis met die Passiespel-kantoor by Oberammergau het, kon ons kaartjies direk by hulle koop.  U plek by die Passiespel is dus gewaarborg!

PASSIESPEL 2020
Die vertonings in Oberammergau word vyf dae per week gedurende Mei tot begin Oktober aangebied en in twee dele opgevoer.  Die eerste deel vind in die middag plaas.  Gedurende pouse geniet gaste aandete in 'n plaaslike restaurant in Oberammergau, wat gevolg word deur die tweede gedeelte van die spel, wat gedurende die aand plaasvind. 
Aangesien ons geen waagstukke wou aangaan om weens onvoorsiene omstandighede laat by die vertonings op te daag nie, sluit al ons kaartjies (Kategorie 2) twee nagte verblyf in of naby Oberammergau in.  Ons oornag die aand vóór sowel as die aand na afloop van die vertoning in plaaslike hotelle/gastehuise.
Bestudeer die toeropsies soos uiteengesit in die inligtingstuk hieronder, maak u keuse en voltooi die inskrywingsvorm.
Let wel:  Finale toerdatums mag met 'n dag of twee van die inligting hierby aangeheg verskil en die finale toerprys sal eers ongeveer 'n jaar voor die 2020-toerdatum aangekondig word.  Die toerdatums  hierby aangeheg is slegs benaderd, omdat verskeie faktore, onder andere kwotasies van busmaatskappye en lugrederye, bootmaatskappye se vaartskedules edm eers 11 – 12 maande voor vertrek beskikbaar is.  Die wisselkoers speel natuurlik ook 'n rol.  Ons glo dat die finale inligting nie drasties van die benaderde inligting sal verskil nie.
Sodra die toerdatums en -pryse van die toere van u keuse gefinaliseer is, ontvang u 'n volledige inligtingspakkie oor dié betrokke toer(e).  Sodra u die volledige inligting en program oor die toer van u keuse in 2020 van ons ontvang het, sal u 'n vorm ontvang waarop u herbevestig dat dit die toer van u keuse is.  Hierdie inligting sal deur die loop van 2019 beskikbaar wees, soos die toere gefinaliseer word.
Ons is besonder gesteld op die kwaliteit van ons toere en dit is vir ons van kardinale belang dat toerlede ons toere ten volle geniet en ervaar dat hulle werklik waarde vir geld kry.  Ons het 'n hele aantal lêers vol briewe van tevrede toerlede en verskaf op versoek graag name en telefoonnommers van mense in u omgewing wat reeds saam met ons getoer het.  Op hierdie wyse kan u oud-toerlede se objektiewe menings verkry.
Ons vertrou dat die Passiespel vir elkeen van u 'n innige en diep geestelike en lewenservaring sal wees.  Ons sien daarna uit om van u te hoor en saam met u te reis.
Inligtingstuk
Inskrywingsvorm

Christine van Wyk-Toere

CHRISTINE VAN WYK-TOERE is 'n familie-onderneming wat baie waarde heg aan hoëkwaliteit-diens. Met amper 40 jaar se ervaring in díe veld, het Christine se Toere vir die Fynproewer al 'n huishoudelike naam geword by elke Suid-Afrikaner wat in buitelandse gehaltetoere belangstel.