SKANDINAWIË

Finland, Swede, Noorweë en Denemarke – 'n ongelooflike wêreld bestaande uit fjorde, gletsers, sneeubedekte berge en asemrowende bergpasse

Inligting oor 2019 se toer binnekort beskikbaar
23 Julie – 09 Augustus 2018
(R76 720 plus *verpligte uitgawes van ongeveer R7 820)
*Sien Nadere Besonderhede vir verpligte uitgawes.
Reisversekering word volgens eie behoefte bepaal
Die Skandinawiese toer is die afgelope twintig jaar verskeie kere aangebied.  Omdat Skandinawië, en veral Noorweë, so 'n pragtige land is, kan 'n mens nie anders as om onder die bekoring van die ongelooflike skoonheid daarvan te kom nie.  Ons het die indrukwekkendste roetes gekombineer en die toer só beplan dat die hoofstede van elkeen van die 4 Nordiese lande, en veral die heel mooiste van Noorweë, by die program ingevoeg is.
Om reg te laat geskied aan hierdie "lande van die Middernagson" is 'n besoek aan die Noorse Lapland en Noordkaap spesiaal ingesluit om die somer-sonstilstand in die noordelike halfrond te ervaar.
Ons sluit enkele getuienisse in van mense wat van ons toere meegemaak het.  Verder stel ons ook 'n volledige Reisgids beskikbaar, sodat voornemende toerlede vooraf 'n deeglike studie van die roete kan maak. 
FINLAND
Finland (in Fins SUOMI), die noorderland van mere, eilande en woude, is in 1917 tot 'n selfstandige republiek verklaar.  Sedert 1812 is Helsinki die hoofstad.  Finland is nege keer so groot soos Switserland, het 60 000 mere en beskik oor die grootste aantal eilande in Europa. 
Ongeveer een derde van die land lê noord van die poolsirkel.  Tog hoef 'n mens hier nie te bibber van die koue nie.  Agv die warm golfstroom is die klimaat dwarsdeur die jaar beduidend warmer as wat 'n mens op dié breedtegraad sou verwag.
SWEDE
Net soos Finland is Swede 'n land van mere, eilande en woude.  Swede is egter meer bergagtig.  'n Besoek aan die luisterryke hoofstad, Stockholm, wat uitgesprei oor 'n panorama van see en eilande lê, is 'n belewenis op sigself.  Dié stad is sonder twyfel een van die wêreld se mooiste hoofstede.  Op Skansen, een van die 25 000 eilande op die drumpel van Stockholm, kan die tipiese Sweedse leefwyse van eeue gelede besigtig word.
NOORWEË
Onbeskryflike skoonheid wag vir ons in Noorweë:  die mooiste fjorde, ongeskonde natuurskoon, pragtige woude, berge met donderende watervalle en bruisende riviere.  Plase, toegegroei met berkebome, is teen die steil berghange geleë en aan die groen oewers van die fjorde nestel dorpies met helderkleurige huise. 
Duisende meters hoër op teen die berge kronkel steil paaie langs duiselingwekkende afgronde en glinsterende yslandskappe!  Deur nou en diep seekanale vaar groot seebote tot 300 km die binneland in. Loodregte kransmure – dikwels honderde meters hoog – word in die steil groen dieptes van die fjorde weerspieël.  Koue berglug afgewissel met die buitengewoon gematigde klimaat van die dale vorm 'n verrassende kontras.
DENEMARKE
'n Besoek aan Kopenhagen, die hoofstad van Denemarke met sy interessante vermenging van die outydse en nuwerwetse, is op sigself 'n besondere belewenis.  Dit is kompleet asof 'n mens in die sprokieswêreld van die bekende Hans Christian Andersen instap – veral as jy by die bekende "Klein Meerminnetjie" staan.
HOOGTEPUNTE VAN DIE TOER
Hoogtepunte van die toer sluit in die onbeskryflike panoramas wat vanaf die hoogste bergpasse voor 'n mens ontvou, sprokiesagtige fjorde (waarvan ons op verskeie vaar), Noordkaap met die middernagson, pragtige mere met ongelooflike weerkaatsings in die water, glinsterende gletservelde asook besoeke aan 'n gletser en gletsermuseum.
Indien u 'n natuurliefhebber is en berge, klowe, mere, riviere en skitterende fjorde en oneindige vlaktes u betower, dan is hierdie toer uitgeknip vir u!  Voeg hierby die twee ontspanne bootvaarte vanaf Helsinki na Stockholm in Swede en vanaf Oslo na Kopenhagen in Denemarke en u kry buitengewone waarde vir u geld.
Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting:
Volledige Skandinawië Program
Nadere Besonderhede
Inskrywingsvorm
Vrywaring
Christine van Wyk-Toere

CHRISTINE VAN WYK-TOERE is 'n familie-onderneming wat baie waarde heg aan hoëkwaliteit-diens. Met amper 40 jaar se ervaring in díe veld, het Christine se Toere vir die Fynproewer al 'n huishoudelike naam geword by elke Suid-Afrikaner wat in buitelandse gehaltetoere belangstel.